NETWERK 24

Ettiene Pretorius het reggekry wat min Suid-Afrikaanse sakelui nog kon doen. Dié selferkende reeksentrepreneur en eiendomsontwikkelaar het verlede jaar ’n uitnodiging gekry om by sir Richard Branson op Necker-eiland te gaan kuier, as deel van ’n uitgelese groep entrepreneurs van oor die wêreld heen.“Met Branson gesels jy nie oor geld nie.

Dis allermins wat hy wil hoor. Vir hom gaan dit oor jou lewensdoel, oor of jy ’n verskil maak,” het Pretorius aan sy gehoor vertel op Kindersorg & Childline se jaarlikse sake-ontbyt in Bloemfontein. Pretorius glo hy is gebore met een doel voor oë – om sy passie vir besigheid te deel en die wêreld te beïnvloed.“Ek glo ’n entrepreneur is iemand wat sy lewensdoel ontdek het en sy talente inspan om ander mense te help, só eenvoudig is dit.”Dié 32-jarige entrepreneur het reeds as student in Potchefstroom sy eerste miljoen gemaak, as eiendomsontwikkelaar. Vandag deel hy sy tyd tussen sy sakebelange en sy passie om ander entrepreneurs te motiveer. Hy vertel watter waardevolle les hy as 10-jarige geleer het, toe hy geld in ’n piramideskema verloor het. Hy was selfs toe reeds ’n sakeman wat allerlei maniere gevind het om geld te verdien, onder meer deur vermaak aan die werkers op sy ouers se plaas naby Witrivier te verskaf.

“Ek het gehoor dat ek 45%-rente op my belegging kan verdien, maar ek het my hele belegging van R2 000 ’n maand later verloor. Dit het my geleer dat daar nie ’n manier is waarop ’n mens maklik geld maak nie.”

Hierna het hy ook geleer om hom baie goed voor te berei op enige saketransaksie.

“Hoe meer inligting jy het voordat jy in ’n sakegesprek ingaan, hoe beter kan jy jouself posisioneer en die ander persoon se swak of sterk punte tot jou voordeel gebruik.”

Hy waarsku ook dat hoewel ’n entrepreneur dikwels vinnig moet spring om ’n geleentheid te benut, en op sy instink moet vertrou, kan hy dit alleen doen as hy die groter prentjie sien.

“ ’n Mens reageer vanuit jou vorige ondervinding op ’n sekere terrein, dis hoe jy jou instink inskerp, maar sê nou jy meet sukses aan die verkeerde maatstawwe, dan sal jy ook die verkeerde beginsels uitleef.”

Sy raad aan sakelui is om te verstaan wat dit is wat hul lewe betekenisvol maak, en om dit uit te leef.

“Ware vervulling is die krag van keuses wat ander mense inspireer om ’n verskil te maak. As sakelui is ons in ’n posisie om meer te gee as om te neem, en ons behoort dit ook te doen. Al wat ons eendag kan saamneem, is dít wat ons weggegee het.”

Other News